Jana van der Merwe – Beeld 2010-07-23
Bethlehem. – Hy het in sy eie bloed gelê en voorgegee hy is dood.
Nadat sy aanvallers weg is, het hy die 150 m na sy plaaswerkers se wonings gestrompel om hulp te soek, het mnr. Gert Lange (67) van die plaas Vaalbank, naby Bethlehem, vertel nadat hy eergisteraand die tweede keer vanjaar in sy plaashuis aangeval is.
Lange, wat dié huis huur en ook op sy eie plaas by Kransfontein met beeste boer, oorweeg dit nou om als te verkoop en pad te gee.
“Die dokters sê vir my hulle kan nie verstaan dat ek nie geskok is nie. Dié keer was daar niks in die huis om te steel nie. In Januarie het hulle al my gewere en geld gevat. Als wat ek gehad het is reeds gesteel,” het ’n emosielose Lange gister in die Dihlabeng-hospitaal in Bethlehem gesê.
“Ek het laataand by die verwarmer gesit en TV kyk toe ek iets in die kamer hoor. Ek hoor nie meer so goed nie. Ek dog dit is die hond. Toe ek die deur oopmaak, het drie mans met klapmusse my oorrompel en vasgebind. Hulle wou geld hê,” het hy vertel.
Lange het gesê al sy geld en gewere is reeds gesteel.
Die mans het hom in die gesig en bors met ’n mes gesteek. Hy is ook herhaaldelik in sy ribbe, gesig en teen die kop geskop.
“Ek was nie bang of geskok soos die eerste keer nie. Ek het niks meer oor nie.”
Lange het daarna voorgegee hy’s dood. Die mans het weer verby geloop om te kyk of hy lewe. “Dit het gelyk of ’n skaap geslag is. Ek het baie stil gelê.”
Die mans het met sy 1 t- vragmotor gevlug, maar die voertuig het op pad na Lindley sonder brandstof gaan staan. Die polisie het gister die voertuig aan hom terugbesorg.
Hy het gesê een van sy werkers het die polisie gebel wat baie vinnig gereageer en ’n ambulans ontbied het. “Ek weet ek was gelukkig. Die tweede aanval was eintlik baie gevaarliker.
“Hulle wil al die boere doodmaak. Hoe wreder dit is, hoe lekkerder kry hulle.
“Ek oorweeg dit nou om te trek. Dit raak nou net te rof hier,” het hy bygevoeg.
Lange oorweeg dit om te trek na sy kinders in Upington.
Hy vermoed die gemeenskap praat onder mekaar dat die boere geld in hul huise het. Hy het voor die vorige aanval beeste vir duisende rande verkoop. Hy glo dit het die aanvallers bereik. “n Mens moenie geld in jou huis hou nie.”
Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die saak.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.


