Gauteng

Hilda Fourie – Beeld 2010-10-11

Hy het voorgegee dat hy dood is waar hy gewond in die gang gelê het terwyl die res van sy gesin in die huis weggekruip en vir hul lewe gevrees het.

Nadat aanvallers mnr. Harold Bentley (58), ’n pensioentrekker, in sy huis op die Andeon-hoewes in die weste van Pretoria geskiet het, het hulle die kamerdeur probeer afskop waaragter sy vrou, seun en skoondogter weggekruip het.

Mnr. Jonathan Bentley (23) en sy vrou, Sonja (29), het voor dié deur gaan lê om te keer dat hulle inkom.

Bentley jr. se ma, Coleen (54), was saam met hulle in die kamer.

Toe die rowers nie regkom nie, het hulle buite om die huis na die kamervenster gehardloop en dié gebreek om in te kom.

Die Bentleys het na die badkamer gehardloop en daar gaan wegkruip. Die aanvallers het dié deur ook probeer oopskop, maar kon dit nie regkry nie.

Dié nagmerrie het gisteroggend in die Bentleys se huis afgespeel kort nadat die alarm omstreeks 00:30 afgegaan het.

Bentley sr. is na die kombuis en het deur die venster gesien hoe mans om die huis beweeg.

Hy is terug na sy kamer, waar die aanvallers die kamervenster reeds gebreek het. Toe Bentley sr. in die deur staan, het hulle hom geskiet. Hy is in die regterskouer getref.

Bentley sr. het in die gang afgekruip, by die TV-kamer gaan lê en gemaak of hy dood is.

Mev. Bentley sr. het na haar seun se kamer gehardloop.

“Jy hoor hoe slaan hulle die ruite stukkend en weet jy het geen verweer nie,” het mev. Bentley sr. gister gesê. “Jy kan nêrens heen gaan nie.”

Toe die aanvallers nie by die Bentleys in die badkamer kon uitkom nie, is hulle na mev. Sonja Bentley se seun, Hanco Watkins (9), se kamer.

Hanco het regop in sy bed gesit toe twee mans by sy kamer inloop. Hulle het sy selfoon gevra en dié foon en nog ’n selfoon wat in sy kas was, gevat.

Die aanvallers het die res van die huis geplunder en kort-kort oor Bentley sr. geklim. Hulle het onder meer met juwele en ’n skootrekenaar weggekom.

Mev. Bentley sr. het die polisie en haar pa, mnr. Stan Davis (79), wat daar naby woon, gebel.

Bentley sr. is na ’n hospitaal geneem.

Ao. Louis de Bruin, polisiewoordvoerder, het gesê dié twee aanvallers word al ’n geruime tyd lank gesoek omdat hulle die mense in dié omgewing teister.

lees berig

Share

Hilda Fourie, Beeld – 2010-08-18

Oomblikke voordat ’n polisieman geskiet is het hy voor sy kinders inbeweeg om hulle teen rowerkoeëls te beskerm.

Voordat hy geskiet is, het ao. Koos van Staden (36) van die Wierdabrug-polisiekantoor in Centurion die drie rowers gesmeek “om niks te doen nie, want my kinders is hier”.

Van Staden, wat sowat ’n maand en ’n half gelede ná nege jaar uit die polisie weer heraangestel is, het gister vertel hoe hy eergisteraand in sy bed in
’n tuinwoonstel op die Knoppieslaagte-kleinhoewes in Centurion geskiet is.

Hy het omstreeks 22:00 TV gekyk en sy kinders, Evan (12) en Marissa (10), het in die bed gelê en slaap.

Van Staden het skielik ’n beweging in die kamer gesien.

Die beweging was dié van drie rowers wat vermoedelik deur die oop voordeur in die huis ingekom het.

“Ek het dadelik geweet wat dit is,” het Van Staden vanuit sy bed in die hoësorgeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion gesê.

“Hulle het die pistool op my gerig. Ek het probeer kalm bly.

“Ek het my hande opgelig om hulle te wys ek het niks in my hande nie en ook ’n bietjie voor die kinders inbeweeg.

“Ek het aan die rowers gesê om asseblief niks te doen nie omdat my kinders hier is.

“Toe skiet hulle my.

“Een het my toe van die bed afgeruk en my gesig in die teëls ingedruk. Ek het die pistool teen my kop gevoel.

“Ek was net bang hulle skiet my kinders.”

Die aanvallers het die huis geplunder en onder meer met Van Staden se beursie en DVD-speler gevlug.

Me. Drieka van Staden, sy suster, het gesê die kinders het deur die hele voorval geslaap.

“Hulle het wakker geword van iets wat klink soos ’n klapper.

“Toe hulle kyk het hul pa op die vloer gelê. Hul pa het opgestaan, aan hulle gesê dat iemand ’n klapper geskiet het en dat hy gou ‘na oom Hennie (sy broer) toe gaan’. Hulle het eers gehoor hul pa is geskiet toe ons hulle vertel het.”

Mnr. Hennie van Staden woon in ’n huis op dieselfde hoewe. “Ek het probeer sterk wees sodat ek nie die kinders ontstel nie, maar ek het geweet ek moet hulp kry.
“Dit het gevoel of ek doodgaan. Regtig.”

Hennie het met sy broer na die Unitas-hospitaal gejaag waar hy ’n noodoperasie ondergaan het. ’n Deel van sy lewer, asook sy galblaas is verwyder.

Van Staden het gesê sy kinders is die rede hoekom hy nog leef.

Hy is van die kinders se ma geskei en hulle woon by hom.

“Al wat ek nou wil doen is om te kalmeer en gesond te word,” het Van Staden gesê.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gesê ’n saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek.

lees berig

Share

Sonja van Buul -  Beeld 2010-07-14

Meyerton – ’n Wag van die veiligheidsmaatskappy ADT wat op ’n huisalarm gereageer het, is gisteroggend vermoedelik met sy eie handboeie geboei voordat hy op teregstellingswyse doodgeskiet is.

Die vermoede bestaan dat mnr. Lazarus Matla (49), ’n reaksie-beampte, ’n onbekende aantal huisrowers op ’n hoewe in Boltonwold betrap het toe hy gaan ondersoek instel het.

Die alarm het om 10:31 afgegaan.

Mnr. Theuns Erasmus (29), seun van mnr. Jurie Erasmus (56), eienaar van die hoewe net buite Meyerton waar Matla doodgeskiet is, het later sy lyk gevind.

Matla is die pa van ’n 13-jarige tweeling.

Volgens Erasmus sr. het hy sy seun, wat daar naby woon, gebel kort nadat die veiligheidsmaatskappy hom laat weet het die huisalarm is geaktiveer.

Erasmus sr., sy vrou, Elize (52), en hul seun, Werner (24), wat al drie in die hoewehuis woon, was ten tyde van die voorval by die werk.

“Theuns en mnr. Bertus van Vuuren, sy skoonpa, is na ons hoewe om te gaan kyk wat aangaan en het die veiligheidswag agter langs een van die buitegeboue gevind,” het Erasmus sr. gesê.

Matla het, met sy koeëlvaste baadjie steeds aan, op sy maag gelê. Sy hande is agter sy rug geboei en hy is vermoedelik twee keer in die voorkop geskiet.

Sy ADT-voertuig het verlate met oop deure agter die hoewehuis gestaan.

“Matla se handvuurwapen word vermis en die polisie ondersoek die moontlikheid dat hy met sy eie wapen doodgeskiet is,” het kapt. Shado Ma-shobane, polisiewoordvoerder, gesê.

“Dit is uiteraard nie bekend of die moordenaar(s) vooraf gewapen was nie,” het hy gesê.

“Dit is ook nie bekend na hoeveel verdagtes ons soek nie en niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.”

Volgens Mashobane het die skuldige(s) nie daarin geslaag om by die hoewehuis in te breek nie.

Mnr. Roy Rawlins, besturende direkteur van ADT Johannesburg, het gistermiddag gesê hy is geskok.

“Ons reaksie-offisiere plaas hulself daagliks in die spervuur, maar dit bly skokkend om sulke nuus te ontvang,” het hy gesê.

“Ons meegevoel gaan uit na die vriende en familie van reaksie-offisier Matla. Hy was sedert 2006 lid van die ADT-familie en was gewild en bekend in die gebied.”

Volgens Rawlins is Matla se dood ’n groot verlies vir die maatskappy.

Die polisie ondersoek ’n moordsaak.

lees berig

Share

Hilda Fourie – Beeld 2010-07-14

Terwyl ’n egpaar drie uur lank op ’n koue kombuisvloer vasgebind op hul mae gelê het, het twee rowers aan wors en koeldrank uit hul yskas gesmul.

Mnr. Callie Ferreira (52), wie se ribbe gekraak is nadat een van die rowers hom met ’n paal op sy rug geslaan het, het gister vertel hoe die twee rowers hom en sy vrou, Tina (48) verlede Woensdagaand in hul huis op die Uitzicht-hoewes in Kameeldrift-wes, Pretoria, oorval het.

Die egpaar is aangeval net vyf dae nadat nadat mnr. Ferreira, ’n tegnikus, uit diens gestel is by ’n maatskappy wat veiligheidstelsels installeer.

Mnr. Ferreira het omstreeks 22:00 die veiligheidshek van die kombuisdeur oopgemaak om sy twee boelterriërs uit te laat.

Mev. Ferreira het op die bank voor die TV gelê en slaap.

“Ek het iets agter my gehoor. Toe ek omdraai, was die twee klaar in die huis,” het mnr. Ferreira gesê.

Een het ’n vuurwapen gehad terwyl die ander een ’n houtpaal in sy hand gehad het.

“Ek wou die een takel, maar toe slaan die ander een my met die paal op my rug. Ek het neergesak en geskree.”

Mev. Ferreira het intussen wakker geword.

Die rowers het haar na haar man, wat op die kombuisvloer gelê het, geneem en albei se hande met skoenveters agter die rug vasgebind.

Die rowers het die huis toe begin plunder.

Volgens mnr. Ferreira het hulle geld, vuurwapens, ’n rekenaar en drank bly vra.

“Ná daardie eerste hou het ek elke oomblik verwag hulle gaan ons skiet. ’n Mens kon nooit sien wat hulle doen nie. Ons het net gebid, want daar is niks anders wat jy kan doen nie.”

Terwyl die Ferreiras op die kombuisvloer gelê het, het die rowers wors geëet en koeldrank gedrink wat in die yskas was.

Ná drie uur het hulle die egpaar in hul slaapkamer ingedwing en hulle in die huis toegesluit.

Mnr. Ferreira het sy vrou se skoenveters losgebyt. Sy het hom losgemaak en hy het geskree.

Sy buurman het wakker geword en die polisie gekontak.

Ao. Louis de Bruin, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog gearresteer nie.

lees berig

Share

Hilda Fourie – Beeld 2010-07-13

Nadat ’n Pretoriase man tydens ’n huisrooftog in die nek geskiet is, het hy plat op sy gesig geval en kon hy nie eens ’n pinkie verroer nie.

Al wat mnr. Rudolph Terblanche (47) om hom kon hoor, was gille, smeke en skote.

Terblanche is verlam gelaat ná die aanval sowat ’n maand gelede in sy huis op ’n kleinhoewe in Willowbray, in die ooste van Pretoria.

Hy het eers later uitgevind mnr. Gerhard van Jaarsveld (48), sy vriend, is doodgeskiet en dat me. Elrene Jones (40), sy lewensmaat, in die skouer en die kuit geskiet is.

Terblanche was eers eergister daartoe in staat om met Beeld oor die gebeure te praat.

Hy het vanuit sy hospitaalbed in die Eugène Marais-hospitaal vertel hy het slegs gevoel tot bo sy borsbeen en in dele van sy voorarms.

Die drie het op 11 Junie, met die afskop van WB 2010, by Terblanche se huis gebraai.

“Ons het lekker gekuier, vuur gemaak en lekker gesels. Ons was nie op moord en doodslag ingestel nie,” het Terblanche gesê.

“Ek het al baie in die tuin gebraai ondanks berigte op TV en in die koerante dat dit is waar misdadigers jou oorval. Dít is mos iets wat met ander mense gebeur.”

Terblanche, Jones en Van Jaarsveld was in die kombuis besig toe twee misdadigers by die oop veiligheidshek ingestap het.

“Al wat ek gesien het, was skietgoed. Ek het gedog daar is nog ’n kans om met die manne te praat en vir hulle gesê hulle moet vat wat hulle wil, maar hulle het net begin skiet.

“Hulle het niks gesê nie.”

Een het Jones in die skouer geskiet, terwyl Terblanche die ander een stormgeloop en sy hand gegryp het waarin die vuurwapen was.

“’n Skoot het geklap, toe is ek man down,” het Terblanche gesê.

“Verder was daar gille, smeke en skote. Ek het plat op my gesig gelê en kon vir die res van die aand nie eens ’n pinkie roer nie.

“Ek het gedink dit is hoe dit voel as jy doodgeskiet word. Ná ’n rukkie het die doodgaanproses vir my ’n bietjie lank begin vat.”
Terblanche het eers ná die tyd uitgevind daar was vyf mans in sy huis.

Dr. Deodat Maré, sy dokter, het gesê Terblanche is in die nekspier geskiet en ’n werwel is getref, “wat sy rugmurg so geskud het dat dit permanent beskadig is”.

“As iemand my bobeen met ’n slagtersmes afsny, sal ek dit nie voel nie,” het Terblanche gesê.

Tog is hy vasbeslote om eendag weer te loop.

Hy is in aanhoudende pyn omdat hy krampe kry op die plekke waar hy gevoel het.

Terblanche het sowat ’n week gelede met rehabilitasie begin. Hy sal minstens drie maande daarvan moet deurgaan.

Sy hospitaalplan voorsien slegs vir 27 dae se rehabilitasie.

Daarby moet hy ook nog ’n rolstoel kry, wat hy nie kan bekostig nie.

“Ek het nie hiervoor beplan nie,” het Terblanche gesê.

lees berig

Share

IOL – 2010-06-22

A 26-year-old man survived a gunshot wound to the head after an apparent house robbery in Bronkhorstspruit on Tuesday, paramedics said.

Netcare 911 spokesperson Chris Botha said the man was in critical condition at the Pretoria East hospital.

He was believed to have been shot at his house in the outlying areas in Bronkhorstspruit and taken to a local hospital.

The hospital called Netcare 911 for assistance.

“Paramedics were flabbergasted to find that although the man was shot in the temporal area, he was still communicating with them,” said Botha.

He was stabilised and transported to the Pretoria East hospital.

“He is doing very well,” said Botha late on Tuesday night.

Bronkhorstspruit police could not immediately confirm the incident. – Sapa

read story

Share

’nPretoriase modelvliegtuigvlieënier het ’n rower agternagesit, van ’n motorfiets afgespring en hom platgeduik.

Toe mnr. Theo Boezaart (33) met sy vangs die 6 km na die Irene Radiovlieëniersklub in Centurion terugstap, het die man heeltyd gesê: “Please don’t kill me, please don’t kill me, it was my first time.”

Lees Berig

Share

Hilda Fourie – Beeld 2010-06-13

’n Man is dood en sy twee vriende gewond nadat die skote geklap het tydens ’n huisrooftog op ’n hoewe buite Silverton, Pretoria.

Die polisie weet nog nie wie die oorledene is nie omdat hulle nog nie met sy vriend en dié se lewensmaat kon praat nie.

Dié twee in die hoësorgeenheid van die Life Wilgers-hospitaal in die ooste van Pretoria.

Ao. Ben Strydom, polisiewoordvoerder, het gesê die drie het Vrydagaand ná die sokkerwedstryd tussen Suid-Afrika en Mexiko, by ene mnr. R. Terblanche (47) en me. E. Jones (40) se huis in Libertaslaan gekuier.

Volgens Strydom het die drie 21:30 buite gesit en vleis braai.

Vyf aanvallers het deur die draadheining geklim en die drie oorval. Die drie is die huis ingedwing.

“?’n Struweling het tussen die twee mans en die vyf verdagtes ontstaan. Meer as tien skote is afgevuur.

“Een man is doodgeskiet en die ander een drie keer, onder meer in die nek en die been, getref. Die vrou is erg aangerand en skrams getref.”

Die verdagtes is weg met ’n TV, rekenaar, hoëtroustel, selfoon en ’n skootrekenaar.

Terblanche en Jones is na die Life Wilgers-hospitaal geneem.

Me. Ineke Jonker, woordvoerder van dié hospitaal, het gesê Jones is in die been geskiet. Sy is gister geopereer en na die ortopediese saal oorgeplaas.

Haar gesig is nog erg geswel weens die aanranding.

Terblanche word steeds in die hoësorgeenheid behandel.

Die koeël het sagte weefsel van sy nek getref.

Volgens Jonker verkies Jones en Terblanche om nie met die media te praat nie.

Enigiemand met inligting kan kapt. Samuel Rikhotso, bevelvoerder van die Mamelodi-trio-taakspan, bel by 082 465 7354. 

Lees berig

Share

André Damons en Sonja van Buul - Beeld 2010-06-02

Vier Mosambiekers is in hegtenis geneem ná die moord op ’n man van Meyerton wie se twee dogters van 16 en 18 daarna herhaaldelik deur hul pa se moordenaars verkrag is.

Die man het Vrydagaand in sy sitkamer voor sy vrou en kinders ineengestort en gesterf nadat aanvallers hom voor sy huis op sy hoewe net buite Meyerton in die Vaaldriehoek geskiet het.

Die vier Mosambiekers is gister in die vroeë oggendure in Soweto gearresteer weens dié gru-aanval.

Volgens konst. Tikoane Sonopo, polisiewoordvoerder, het lede van die Vereeniging-trio-taakspan omstreeks 02:00 op ’n plakkershut in Orlando, Soweto, toegeslaan en drie mans in hegtenis geneem. Hul makker is later elders in Soweto gearresteer.

Volgens Sonopo het die vier mans die 50-jarige man Vrydag vermoedelik omstreeks 22:00 voor sy huis op die Boltanworld-hoewes ingewag.

Die man het glo van Kuruman in die Noord-Kaap af gekom.

Sy 16-jarige dogter het die voordeur vir hom oopgemaak en is terug na die sitkamer waar haar ma en 18-jarige suster saam met twee ander vroue gesit het.

Sonopo kon nie gister sê wie die twee ander vroue is nie.

Kort nadat die 16-jarige weer by die ander vroue aangesluit het, het hulle twee skote gehoor, waarna haar pa die kamer bebloed binnegestrompel het.

Hy het ineengestort en is voor die vroue en kinders dood. Hy is vermoedelik in die regterskouerblad onder die arm geskiet.
“Kort nadat die man die sitkamer ingestrompel het, het drie aanvallers die vertrek ingestorm. Hulle het min gepraat, maar was baie aggressief,” het Sonopo gesê. ’n Vierde man het later by die mans aangesluit en die vroue langs die oorlede man vasgebind.

Beeld het gister verneem die aanvallers het die twee meisies eers na ’n buitekamer in ’n motorhuis geneem en hulle daar herhaaldelik om die beurt verkrag.

Een aanvaller het toe een van die meisies in die huis ingeneem en weer verkrag.

Die ouer vroue is erg getraumatiseerd, maar ongedeerd.

Sonopo het gesê die mans het daarna ’n TV-stel en ’n radio gesteel en in die familie se BMW-motor gevlug.

Nadat die aanvallers weg is, kon die vroue hulself losmaak en het die polisie gebel.

Die twee meisies is na ’n plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.

Die trio-taakspan het die gesteelde BMW die volgende dag in Diepkloof, Soweto, gevind en die TV-stel, radio en ’n pistool, vermoedelik die moordwapen, in die hut.

Die mans sal binnekort op aanklagte van moord, verkragting en roof in die landdroshof in Vereeniging verskyn.

lees berig

Share

Hilda Fourie – Beeld 2010-05-31

Die Boschkop-polisiekantoor buite Pretoria het weens ’n pap wiel nie gereageer toe ’n enkelouer en haar twee kinders deur rowers in hul huis oorval is nie.

Twee uur ná die voorval Vrydagoggend – en nadat die Bronkhorstspruit-triotaakspan die toneel ondersoek het – het lt.kol. Gavin The-Kisho, stasiebevelvoerder, me. Luna Davel (35) van Donkerhoek op die toneel om verskoning gevra vir sy polisiekantoor se optrede.

Lees berig

Share

Gasgewere

In Samewerking Met

Farmer First Group

Lede van

The Institute of Protection Specialists & Security Contractors