Susan Cilliers – Beeld 2010-07-09
Fochville. – Dit is ’n gesig wat taai boere aan die hart ruk: verminkte beeste wat bulkend van vrees en pyn op bebloede stompiebene probeer vlug.
140 beeste is die afgelope drie maande hier gesteel en wreedaardig deur ’n bende veediewe vermink.
Die diefstalle verteenwoordig ’n gesamentlike verlies van sowat R1 miljoen net aan beeswaarde onder agt boere in die Fochville-omgewing – sonder inagneming van inkomsteverlies, het mnr. Carl van Heerden, een van die boere, aan Beeld gesê.
Die veediewe steel die beeste snags en jaag hulle dan sowat 45 km tot by Lawley, ’n plakkerskamp naby Ennerdale, suid van Johannesburg.
“Van die beeste vrek weens uitputting op pad daarheen,” het Van Heerden gesê.
“By die plakkerskamp kap die diewe die beeste se pote stukkend sodat hulle nie kan weghardloop nie. Dan lê hulle die hele dag daar en bulk van pyn.
“Van hulle probeer selfs op hul verminkte pote opstaan voordat die diewe vroegaand terugkom en hulle slag.”
Dié hartverskeurende toneel het mnr. Org van der Westhuizen, ’n veeboer, Maandag begroet toe agt van sy beeste digby Lawley gevind is.
Ses het reeds gevrek en die Dierebeskermingsvereniging moes twee van kant maak.
“Dis ook ’n emosionele verlies, want ons het van hierdie diere met die hand grootgemaak. Ons verloor ook genetika vir teeldoeleindes,” het Van der Westhuizen gesê.
23 van sy beeste is sedert einde Mei gesteel.
Mnr. Sonnyboy Shabalala, ’n boer, vertel hy het sowat drie weke gelede minstens R110 000 verloor nadat 16 van sy koeie gesteel is.
“Ek het vier teruggekry, vier is dood en vier is so erg gekap dat hulle doodgeskiet moes word.”
Shabalala het gesê die polisie doen niks en dat hy daarom genoodsaak was om twee wagte aan te stel om sy beeste op te pas. Van die ander boere moes geëlektrifiseerde heinings en alarmstelsels installeer.
“Ons huur ook ons eie vliegtuig om na die beeste te soek,” het Van Heerden gesê.
Shabalala, Van Heerden en die ander boere is veral bekommerd omdat veediefstal in hul omgewing die afgelope drie maande drasties toegeneem het, terwyl dit vir hulle voel die polisie trek skouers op.
“Hulle sê dis petty misdaad,” het Van Heerden gesê.
“Ons kry nie saaknommers as ons nie self navraag doen nie.
“Die polisie kom selde uit en het nie nagtoerusting om na gesteelde beeste te soek nie.”
Die vleis van verminkte diere wat deur die boere gevind en van kant gemaak moet word, kan nie verkoop word nie omdat beeste lewend by slagpale geslag moet word.
Van Heerden meen die polisie behoort meer klopjagte te doen om die leiers van die diefstalbendes vas te trek.
“Ons weet nie meer wat om te doen nie. As dit so aangaan, sal boere opgee. Wie gaan dan melk en vleis produseer?”
- Veediewe het vandeesweek 18 koeie en 22 kalwers ter waarde van sowat R178 400 op die plaas van mnr. André Botha, president van Agri Gauteng, gesteel, berig Sarel van der Walt.
‘Bêre boewe weg’
Mnr. Freek Tomlinson, hoofbestuurder van Agri Gauteng, sê: “Ons is bewus van die probleem in die Fochville-omgewing.” Volgens hom vergader Agri Gauteng en die boere Dinsdag saam met die Suid-Gautengse veediefstaleenheid.
Tomlinson stem saam dat ’n sindikaat heel moontlik doenig is. “Veediefstal word al hoe meer georganiseerd. Dit bedreig veral die voortbestaan van kleinboere en grondhervormingsboere.
“Die enigste oplossing is om veediefstaleenhede uit te brei, beter polisiëring en om die skuldiges te vervolg en weg te bêre (in die tronk).”
‘Polisie 24 uur beskikbaar’
Die polisie gaan wel uit na boere wat veediefstalle aanmeld en daar is selfs ’n spoorsnyer wat help om beeste en diewe te soek, sê lt.kol. Hennie Maas, bevelvoerder van die Fochville-polisiekantoor.
Sy lede doen patrollies snags en is 24 uur op bystand, maar dis nie maklik om ’n veedief te vang nie. “Hulle beweeg in die nag en as die dier eers weg en geslag is, is daar niks wat die dief met die misdaad verbind nie.”
Volgens Maas is een veediefstalsaak in April, drie in Mei en vyf in Junie daar aangemeld. “As sake nie aangemeld word nie, kan ons niks daaraan doen nie. As boere ontevrede is met ons hantering van die sake, moet hulle my self kom sê.” Maas sê “die hel sal draai” as hy moet hoor sy polisielede gaan nie uit na veediefstaltonele nie. “Wat met die diere gedoen word, is barbaars.”
Hy meen ’n sindikaat is moontlik doenig, maar sê veediefstal neem gewoonlik in die winter toe
Virginia Keppler – Nuus 24 – 2009-12-07
’n Man van ’n plaas in die Roossenekal-distrik in Mpumalanga is in ’n wraakaanval met sy eie vuurwapen “tereggestel”.
Die aanval op Gawie Hough (42) kom twee maande nadat ’n voormalige plaaswerker van Deon (41), sy broer, hom gedreig het met die woorde: “Ek gaan jou wys wat ek met ’n wit man kan maak.”
Deon Hough, baas van dié plaas op die Steelpoort-pad, sê sy broer is Donderdagaand vermoor.
Linda de Beer – Nuus 24 – 2010-02-04
“Ek het eers gedink iemand maak ’n flou grappie, maar toe daai skoot klap, het ek besef dis nie sommer grappies nie.”
Só het Mannetjie Pieterse (69), ’n boer van die Schweizer-Reneke-distrik, gister vertel van die aanval op hom, sy seun Johan (27) en hul kuiergaste Maandagaand.
Amanda Roestoff – Beeld 2010-05-23
’n Polisievrou is in hegtenis geneem ná ’n plaasaanval in Schweizer-Reneke, Noordwes, en ’n voormalige polisielid word in verband met die voorval gesoek.
Mnr. Abraham Oosthuizen (35), ’n saai-en-beesboer op die plaas Grootlaagte, is Vrydag 20:00 aangeval toe hy by sy plaas aangekom het nadat hy werkers gaan aflaai het.
Carla van Niekerk – Beeld 2010-05-16
Gaste wat Saterdag vir ’n vleisbraaiery op ’n plaas in die Buffelshoek-omgewing buite Parys aangekom het, het op die gasheer se lyk met ’n ketting om sy enkels afgekom.
Die moordenaar het mnr. Johan Strydom (40) vermoedelik Saterdag omstreeks 13:00 met ’n ysterstaaf by sy werfhek oorval, het lt.kol. Lesego Metsi, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê
As u enige verdagte insidente op u plaas of u plaas omgewing wil raporteer of spesieke insidente van kriminaliteit gebruik asb die volgende die form onderaan om dit te doen.
If you want to report any suspicious activity on your farm or farm area or specific insidents of crime, please use the form below to do so.


