Marietie Louw-Carstens, Beeld – 2010-08-11
’n Man van Tzaneen is aan ’n boom op sy hoewe vasgebind en met ’n panga en piksteel doodgeslaan.
Mnr. Theuns (Whitey) Fourie (46) se bebloede lyk, met sy hande nog agter die rug vasgebind, is in sy tuin gekry.
Twee van die vyf aanvallers wat hom eergisteraand ingewag en vermoor het, het ook ’n vrou op die hoewe verkrag, waarna hulle vir hulself in die kombuis kos gemaak het.
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê die vrou is ná die verkragting in die kattebak van Fourie se Toyota Camry gelaai.
“Sy het ná ’n hele ruk gehoor hoe ’n voertuig ry en dit stil word. Sy het haar losgewikkel en uit die kattebak gekom. Die vrou het sowat ’n kilometer na die naaste bure geloop en hulp gesoek,” het Otto gesê.
Fourie het die afgelope 17 jaar by die Sonco-insleepdiens in Tzaneen gewerk.
’n Kollega van hom het gesê daar was baie bloed waar sy lyk gekry is.
“Orals in die huis was ook baie bloed. ’n Kas langs die kluis was ook met bloed besmeer.”
Fourie was met verlof en het eergister 21:00 van Pretoria teruggekom op die hoewe, sowat 5 km buite Tzaneen op die Agatha-pad, waar hy alleen in ’n huurhuis gewoon het.
Mnr. Johan Fourie, sy broer en voormalige hoof van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad in Limpopo, het gesê hy het Vrydag by hom in Pretoria gekuier.
Mnr. Rudi Sonnekus van Sonco-insleepdiens het gesê die aanvallers het die veiligheidshek by die agterdeur oopgebuig.
“Die hele plek was bemors soos hulle hulself gehelp het met kos.”
Fourie is glo oorval toe hy by die hek stilgehou het. Die vyf aanvallers het klapmusse gedra en pistole gehad.
Hulle het hom herhaaldelik met die piksteel en panga geslaan.
Otto het gesê Fourie en die vrou se selfone is gesteel.
Die aanvallers het ook huishoudelike toerusting, waaronder ’n TV en DVD-speler, gesteel.
“Hulle het die huis leeggemaak. Selfs sy tuimeldroër en wasmasjien is gesteel,” het ’n kollega van hom gesê.
Die mans het ook ’n kluis in die huis oopgebreek en vermoedelik twee vuurwapens gesteel.
Johan Fourie het gesê hy is “baie teleurgesteld” oor die moord.
“Ek het dié soort goed altyd ondersoek … en nou gebeur dit met iemand na aan my.”
Sonnekus het gesê: “In die wêreld sal ’n mens nie weer so ’n lojale mens soos Whitey kry nie.”
Die vrou is na die polisie-traumasentrum in Tzaneen geneem. Sy het gister behandeling in ’n hospitaal ontvang.
Die polisie het ’n grootskaalse soektog na die moordenaars begin.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.


